Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 22 JULIE 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons die afsterwe van Ted Broome, ZS6KA, op die ouderdom van 82. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL

REGISTREER NOU VIR DIE KLAS B EKSAMEN

PRESIDENTSNET EN INTEGNET VOLGENDE SONDAG

KLTK NOG STEEDS DEUR VERSKAFFERS BEVORDER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en en ander belangrike en interresante nuusitems.

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL

Vanaf Sondag 29 Julie sal die 17 695 kHz frekwensie vervang word met 17 590 kHz. Hierdie verandering is om steuring vanaf ’n Arabiese stasie naby aan 17 695 kHz te vermy. Ontvangsverlae vir 17 590 kHz is welkom en kan gestuur word aan armi@sarl.org.za.

REGISTREER NOU VIR DIE KLAS B EKSAMEN

Die volgende klas B eksamen word op 23 Augustus gehou. Die sluitingsdatum vir registrasie is môre, 23 Julie. Geen laatinskrywings sal aanvaar word nie maar sal oorgedra word na die Oktobereksamen.

Die eksamenregistrasiefooi beloop R300. Die koste vir studente en leerders onder 25 jaar is slegs R200. Laai al die vorms van die SARL-webwerf af en faks dit na voltooiing aan 088 011 675 2793.

PRESIDENTSNET EN INTEGNET VOLGENDE SONDAG

Die Presidentsnet is volgende Sondag op die lug. Kom deel in Graham Hartlett ZS6GJH se aanbieding om 19:00 oor SARL-sake en verskeie aktiwiteite wat vir die volgende paar maande beplan word. Graham sal ook die SARL se planne om ‘ARDF - Amateur Radio Direction Finding’ te bevorder. Dit is ’n aktiwiteit wat tans baie aftrek kry onder die jeug in Europa en die VSA.

Die Presidentsnet word om 20:00 gevolg deur die Integnet met Dr. Pieter Kotze as gasspreker. Sy onderwerp is 'Implications of Living on a Giant Magnet'.

In hierdie aanbieding sal verskeie aspekte van die aarde se magnetise veld bespreek word, die ontstaan daarvan, sowel as die invloed op gesofistikeerde tegnologie, veral tydens magnetise storms. HF-radiokommunikasie sowel as GPS-gebaseerde tegnologie word besonder daardeur benadeel. Ommeswaaie van die geomagnetiese veld en die beskermende rol wat dit en die atmosfeer vervul sal uitgelig word. Deklinasie, die hoek tussen ware noord en magnetise noord, is ’n belangrike komponent van geomagnetisme węreldwyd, maar in besonder suidelike Afrika. Die onreelmatige variasie daarvan oor tyd is van spesiale belang vir gebruikers van navigasiekaarte.

Toeligtingsprente in PDF-formaat kan van die SARL-webwerf afgelaai word. Besoek by www.sarl.org.za en klik op ARMI.

Klubs wat hul herhalers will koppel aan beide die Presidentsnet en die Integnet moet 'n e-pos aan armi@sarl.org.za stuur met besonderhede van die telefoonnommer wat by die konferensie ingeskakel moet word.

KLTK NOG STEEDS DEUR VERSKAFFERS BEVORDER

Die afgelope week was KLTK weer die onderwerp van ’n konferensie in Sandton. IPOWA is ’n nuwe maatskappy wat baie aktief KLTK bevorder. Volgens hulle webwerf is IPOWA die eksklusiewe plaaslike verskaffer van die węreld se leidende Breëband-Oor-Kraglyn- (BPL) stelsel. ’n Bewese, koste-effektiewe en robuuste oplossing vir vinnige breëbandontplooiing. IPOWA is die laaste-myl oplossing waarvoor nutsmaatskappye, internetdiensverkaffers, hotelle, skole en eiendomsontwikkelaars gewag het. Deur by bestaande infrastruktuur in te sluip en ’n unieke “plug and play” stelsel, is IPOWA die sleutel tot hoëspoed toegang wat vinnig werk.

Drie van hul verteenwoordigers het hulle saak gestel by Internetics 07, ’n konferensie oor IT en die internet, geborg deur Internet Solutions.

IPOWA se benadering was ietwat anders as hul vorige voorlegging by ’n breëbandkonferensie ’n paar weke gelede. Hierdie keer promoveer hulle dit as ’n vastelynoplossing wat die internet 15 keer vinniger as ADSL lewer en buiten die internet geleenthede verskaf vir kragbestuur, meterlesings, elektrisiteitsaanvraagbeheer om onderbrekings te voorkom, sekuriteitskameras en verkeerbestuur.

Probleme soos steurings aan HF was nie deel van hul bespreking nie. Hulle het egter erken dat hulle nog wag vir OKOSA om KLTK, wat die amptelike benaming vir BKL is, te lisensieer.

Die steuringsprobleem van KLTK en moontlike interimstandaarde is op die agenda van die TC73-komitee van die SABS wat gemoeid is met EMV-standaarde wat in die middel van Augustus vergader. Die SARL hou die saak fyn dop.

SPITSE OP DIE LUG

'n Paar OK’s gaan op Saterdag 28 Julie probeer om Stanleybushkop te aktiveer. Luister uit en gee asseblief 'n kontak vir Detlev, ZS6BAB, Tom, ZS6TMO, en Lucas, ZS6ACT, op 7 065 kHz. Alternatiewe frekwensies is 14,165 en 145,500 MHz. Hulle poog om vanaf 11:00 SAT aktief te wees. Stanleybush se SOTA-verwysing is ZS-MP/018 en die ligging is S24 564 E30 481. Meer inligting oor die spites program kan gevind word by www.qsl.net/sotasa of www.sota.org.uk.

KOMPETISIENUUS

Die Boland ARK 40 meter foonkompetisie is vanmiddag tussen 15:00 en 18:00 SAT op die lug. 'n RS-verslag en jou poskode word uitgeruil. Slegs draadantennas en 'n maksimum uitsetkrag van 100 watt mag gebruik word. Elke kontak tel 1 punt en 'n kontak met ZS1BAK tel 5 punte. Logstate moet binne 15 dae na die kompetisie gestuur word aan BARK, Posbus 2105, Dennesig, 7601 of per e-pos aan zs1bak@mailbox.co.za.

Maandag 23 Julie is die sluitingsdatum vir logstate vir die SARL se Digitalekompetisie. Besorg jou logstaat teen middernag op Maandag by die kompetisiekomitee om kans te staan om 'n Yaesu VX-2R handdraagbare stel te wen.

Die SARL-HF-foonkompetisie sal op Sondag 5 Augustus 2007 op die lug wees, dit begin om 15:00 en eindig om 18:30 SAT met aktiwiteit op sekere gedeeltes van die 20, 40 en 80 meterbande. Deelname kan as 'n enkeloperateur, multi-operateur of kortgolfluisteraar wees. Verder is dit opgedeel in laekrag, hoekrag, enkelband, multiband of my beste uur. 'n RS-verslag en reeksnommer word uitgeruil.

Suider-Afrika is in 8 sones opgedeel vir hierdie kompetisie en deelnemers moet poog om stasies in elke sone te werk vir bonuspunte, verdere bonuspunte word verkry deur dieselfde stasie op al drie bande te werk.

Die reëls en logstate is beskikbaar in die 2007 SARL-kompetisieboek by www.sarl.org.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteits vlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees met moontlike aktiewe vlakke gedurende 31 Julie. Die verwagte effektiewe sonvlek telling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m-openinge vanaf 15:30 SAT na Indië. Na Australië toe kan daar ‘n 40 m-opening om 20:00 wees. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Om 16:00 is daar moontlike kort 20 m-openinge na die Weskus van die VSA.

Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan 40 m regoor Suid-Afrika vir goeie voortplanting sorg vir die Boland ARK 40 m-pretwedstryd. Afhangende van jou ligging gaan die goeie toestande tot minste 16:00 duur. Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Julie – SOTA - Stanleybushkop word geaktiveer;
29 Julie – Presidentsnet en Integnet;
5 Augustus – SARL-HF-foonkompetisie;
15 Augustus – Laaste dag vir voorlegging van opsomming oor voorgestelde lesings vir SA AMSAT se Ruimtekonferensie;
23 Augustus - Klas B RAE;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz (volgende Sondag 17 590 kHz), te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger Conroy, ZR3RC, saamgestel is en uitgesaai is deur (jou naam en roepsien).

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003